Die Hel in Helmien

Uit die Blou van ons Gewrewel

Helmien is die tannie wat, wanneer sy die wasgoed doen, haar onderklere om die hoekie oor emmers voor die kombuisdeur gooi om droog te word. Sy kan dit mos onmoontlik oor die wasgoeddraad hang waar die bure dit sal sien.

Sy is juis geskok oor ou Ta’ Annie by die ouetehuis wat haar onderklere ophang waar almal wat in die straat afloop dit kan sien. En dieselfde ou tante kla oor haar man wat op sy ouderdom nog woelig wil raak. Die ou omie wat nie sy pille wil drink nie want, sê hy, dit tas sy manlikheid aan.

“‘n Vrou agter elke man, ja, maar waar is dit geskryf ónder elke man?” wil Ta’ Annie weet.

Van wanneer af is mense so uitgesproke, dink Helmien. En boonoop dra die ou vrou moulose bloese wat vir almal haar vet, verrimpelde arms wys.

En elke keer as Ta’ Annie oor haar jagse ou man begin praat, begin daar ‘n ongemaklike gegrits in Helmien se gemoed, soos korreltjies beskuit wat in die lakens agterbly – maar sy is lankal te moeg om die beddegoed uit te skud.

Tog kuier Helmien gedurig by Ta’ Annie en kla gereeld oor hoe dinge verander: “Ek voel ek word so vinnig oud. My kop trek al in die Groot Karoo, maar my lyf sukkel nog in die Vrystaat rond. Maar deesdae weet ek ook nie aldag waar wat is nie. En dan gaan staan hulle en verander die name van plekke net om nog verder met my kop te mors. As ek vandag Warmbad toe moet ry sal ek tien-teen-een in Zimbabwe beland voor ek besef ek het by Bela-Bela verbygery. En wat is nou fout met ‘n warm bad? Tot Zuma dink ‘n stortbad is net die ding.”

Helmien het self deur die jare vele naamveranderinge ondergaan om by die omgewing aan te pas. Haar pa, toe hy haar na haar geboorte gaan registreer het, het gedink dis kreatief om haar “Susanna Helmien” te doop in pleks van “Susanna Helmiena”, wat nou eintlik haar ouma se name was na wie sy vernoem is. Sonder die ‘a’ het die name nie ritme nie, en dit klink toe vir Helmien asof dit onvervolmaak is, asof dit op afronding en finaliteit wag.

En wie wil nou gebuk gaan onder sulke swaar name wat nog boonop soos ‘n laskombers saamgestel is uit afvalstukke soos ‘Sanna’, ‘Anna’, ‘Miena’ of net ‘Hel’? Elke keer wanneer sy oor díe laslappies gesit en tob het, het ‘n liedjie in haar kop begin speel: ‘Swaar dra al aan die eenkant, swaar dra al aan die eenkant…’

Helmien het vir baie jare die ‘a’ self by haar naam aangeheg, en saam met die ander fasades wat sy moes opbou om te oorleef, het die hele struktuur van haar menswees so met die uitbreidings en tierlantyntjies heeltemal ‘n ander karakter aangeneem, totdat sy op ‘n dag, net so ná haar pa se begrafnis, besef het dat sy nie meer weet wie sy nou eintlik is nie. Van toe af laat los sy die ‘a’ en nou klink “Helmien” vir haar na waardigheid en standvastigheid.

Wanneer Helmien oor haar pa praat, sukkel sy so tussen dit wat goed klink en dit wat raak skraap. Hy was voortdurend en skynbaar willoos aangetrokke tot die naaste kroeg. Sy dink aan hom as die Bierbrommer: vasgevang in ‘n onwillekeurige gedraai om die naaste stinkende nat kol. Bierbrommer en boelie wat hy was, het hy Helmien en haar sus telkemale op ‘n Saterdag op een of ander voorwendsel in die bakkie gelaai en hulle na die shebeen in die lokasie saamgesleep, waar die tannies hulle vasdruk en welkom heet en waar hulle rondomtalie op die stowwerige grasperk saam die ander bierbrommers en wynvlieë se kinders gedoen het. Asof die teenwoordigheid van ‘n kind of twee ‘n man se ware voorneme kan witkalk. Die lok-aasie. Lokaas vir die Bierbrommerboelie. En vyftig jaar later wonder Helmien nog steeds hoe dogters waarde kan hê as skerms, maar nie kosbaar genoeg is vir beskutting nie. Hoe mense goed genoeg is om mee saam te fuif, maar niks werd is om mee saam te leef nie. As mens lank genoeg met jou eie vooroordeel saamleef, kry jy mos ‘n bietjie insig in dié soort waardewisseling, maar soos enige jong mens in so ‘n geskommel, het Helmien ook maar jare later ewewig in haar eie vooroordeel gevind.

‘n Paar jaar ouer, op ‘n dag wat hulle weereens onder die een of ander versinsel saamgesleep is kroeg toe, dié keer sommer by die naaste polisiestasie waar hulle in die kar moes bly sit want daar was nie tannies en ander kinders nie, en die Bierbrommer sit en vertel van hoe baie sy vriende sy geselskap en sy grappe geniet, het Helmien skielik argeloos uitgespoeg: “Hoe hou hulle nou so baie van jou as óns jou nie kan verdra nie?” En dié wat as skild voorgehou is, dra jare later steeds die skuld van dié piepklein spatsels wat nat bly en versprei en jare later ‘n groot vlek word, asof kinders en kladpapier een en dieselfde is — bekrap, besmeer en deurdrenk met die ouers se opgehemelde selfbeelde, drange en drome; en boonop moet die kladkinders ook al die mislukkings, tekortkominge en selfverwyte absorbeer.

Van daardie dag af was die susters nie meer saamgesleep kroeg toe nie. Die Bierbrommer het van toe af gewag vir sy seun, wie alleen die las van edele en ydele waarde dra, om groot genoeg te word sodat sy kop bo ‘n kroegtoonbank kon uitsteek.

“‘n Kind is mos nie ‘n kladblok nie!” is Helmien se mening omtrent mense wat hul neigings op hul kinders gaan staan en krap. Wys vir Helmien enige inkkol en sy sien ‘n monster; die vlinders is lankal verskans onder die spartelspatsels van die kladkinderjare. En die simpatie en die empatie en al die ander mooi medelydende woorde wat gepaard gaan met die begrip wat kom met ervaring en oudword, kan sulke vlekke nie super-Surf nie.

Maar dit maak nie saak hoe kwaad Helmien word nie, jy sal nooit ‘n gevloek en ‘n geskreeu in háár huis hoor nie. Wat sal die bure dink? Sy wil buitendien niks met hulle uit te waai hê nie. Sy kla wel oor die bure, of die bank, en hoe stief sy behandel word sedert 1994. Sy kan skaars dié wat sy bekla in die oë kyk en wil hulle wegwens. Uitvee. Oplos in Omo.

‘n “Kan jy nou glo dat hy dit gedoen het!” of ‘n “Stel jou nou voor!” en “Is dit nou nie ‘n skande nie!” oor dié of daardie een se gedrag gaan gepaard met ‘n uitgooi van die hand en ‘n gesig wat vertrek van afkeer terwyl die kop af en eenkant toe draai sodat niemand die haat en woede in haar oë kan opmerk nie.

Só ‘n veronregte en vertrappelde mens soos Helmien móét maar met harde handgebare, opgetrekte skouers en verwronge gesig verduidelik hoe lelik die lewe met haar maak. As dit net kalm en rustig vertel word, dan hóór niemand haar nie.

“Ek het myself al die jare vir ander mense afgesloof. Ek voel net ek het my bes gedoen. Ek het seker gemaak dat my kinders mooi netjies aangetrek is, dat die huis mooi lyk. En nou het ek my plig gedoen en wil niks meer daaroor praat nie. Dit is nou oor en verby.”

En woorde word beklemtoon met ekstra ellle en harde errre, en die spoeg spat soos die k’s ontplof.

Maar as haar vriendin, Martie, wat altyd so mooi en verfynd en penregop sit wanneer sy saam met haar dogter kom kuier, praat oor hoe talentvol haar dogter is en hoe lief sy haar het en hoe dankbaar sy vir haar in die lewe is, dan begin die gekrap in die krop van Helmien se gemoed weer. En sy kan nie wag om vir haar kinders te vertel hoe talentvol en lief die vriendin se dogter is nie. “En sy is so oulik, sy gaan haal Martie elke Sondagoggend, dan kuier hulle ‘n bietjie hier en daar, en elke Sondag gaan eet hulle dan by ‘n restourant. En sy is so kunstig en so talentvol! Jy moet net sien watse mooi naaldwerk sy doen. Jy sal jou oë nie glo nie! En Oom Jannie, onthou jy Oom Jannie, jy sal nie glo hoe goed sy seun doen nie. Hy is mos so slim. Hy is net so oulik. Hy gaan haal sy ma eenmaal ‘n week en dan vat hy haar na die botaniese tuine, of as dit rëën gaan eet hulle lekker uit. Hy kyk vreeslik mooi na haar …”

Aan die begin van elke jaar maak Helmien aantekening van almal se verjaardae in haar dagboek. Soos die jare aangeloop het, en die klein krappies versamel het, het sy dit al hoe moeiliker gevind om ‘Ma Suzie’ en ‘Pa Willie’ tussen die lyntjies op die dagboek se jaarbeplanner te skryf. Later het die ‘Ma’ en die ‘Pa’ weggeval, en teen die einde het daar net Susan en Willem in die kleinte gestaan.

Sy stuur vir almal kaartjies, maar kry min terug. Toe een van haar dogters, wat sy net eenmaal elke drie of vier jaar sien, ‘n tydjie gelede kom groet het, het sy vir haar die kaartjie gewys wat een van haar kleinkinders vir haar gemaak het. En terwyl sy na die raampie op die muur beduie, vertel sy hoe sy vir die kleinkind gewys het wat mens met ‘n kaartjie maak; hoe jy dit in ‘n koevert sit en die posseël opplak. “En moenie Ouma se adres vergeet nie!” Die adres het mos meer waarde as die posgeld. Maar díe les is lankal vergete.

As Helmien kla oor díe dogter, of die droogte, en hoe geel die gras is, lê haar klem of die ‘g’, wat só uitgerek word dat ‘n mens die grof-gegriffel van die woestyn op jou tong voel, en, hoewel jy nie langer wil kuier nie, is jy maar te dankbaar vir die koppie tee wat sy aanbied.

Sy sê sy is deesdae min gepla met stof en skoonmaak. As haar dogter, wat op anti-depressante is en ‘n psigiater sien, met haar probeer praat oor wat haar pla, is Helmien se antwoord altyd “Ek wil niks weet nie, ek wil nou net terugsit en myself geniet. Jy moenie so vasklou aan die verlede nie … wat verby is, is verby!”

Die huis is blink en skoon, en daar is nie ‘n gedroogde kalbas, ‘n koperpot of ‘n droë rangskikking uit sy plek nie. Die geheue is gesteriliseer, die woede is met die suigbesem toegetakel, en die letsels gepoleer tot ‘n sagte glans.

finis
©Sara Dias

Onderhandelinge met die gode

Op ‘n dag in Julie voel Helmien skoon benoud en paniekbevange toe sy op die hoofweg oor die Tygerberg se bult ry en die hele Kaapse vlakte en Tafelberg lê onder ‘n dik misbank wat haar wêreld verkrimp en beknop maak. Dit is vir Helmien asof die res van die aarde nie meer daar is nie en alhoewel sy die mensdom dikwels verdoem, word sy oorweldig deur ‘n gevoel van verlatenheid en kry sy ‘n knop in haar keel. Sy probeer deur die gryswit gegoël tuur, want sy weet mos die berg is daar, maar sy voel asof sy teen die einde van die wêreld vaskyk.
“So ‘n miswolk kan ‘n mens maklik na godsdiens laat gryp, al het jy lankal vergeet wat die verskil tussen Hervormd en Gereformeerd is,” verklaar Helmien.

Tannie Annie van die ouetehuis wat langs haar in die motor sit, se bene is reguit uitgeskop en vasgetrap teen die vloer en haar hande mik-mik so na die paneelbord. Die tannie het nooit self leer bestuur nie en die groue wasigheid is genoeg om díe delikate siel, wat vreeslik aan haar senuwees ly, so bang te maak dat sy verwag dat haar oorlede man enige oomblik met oop arms uit die newels gaan verskyn om haar welkom te heet in die hiernamaals, en hoewel sy eeue laas in ‘n kerk was, bid sy met ‘n desperaatheid gebore uit ‘n leeftyd onder die manel van patriargale opgepofdheid om tog net nog ‘n jaar of drie gespaar te bly sodat sy die lewe net vir ‘n bietjie langer sonder haar wyle man kan geniet.

“Ja-nee, nood leer bid,” sê Helmien asof sy die tante se gedagtes kan lees. “Dit herinner my aan die gesprek wat ek gehoor het terwyl ek eendag heeltemal onskuldig gesit en koffie drink het. Jy weet, by een van daai koffieplekke wat ‘n mens teëkom net waar jy gaan, en die koffie is dieselfde olierige skottelgoedwater of jy nou in Clifton of Kraaifontein is. Daar hang altyd een of twee spanne krieketma’s uit – natuurlik nadat hulle die kinders by die skool gaan aflaai het met hulle vierwielaangedrewe watsenaams en die bediendes by die huis gaan oorlaai het.”

“Een van die krieketma’s vertel toe vir die ander hoe sy aan Liewe Jesus ‘n belofte gemaak het dat sy sal ophou rook as Hy haar kind gesond maak.” Helmien onthou hoe die jong vrou, met Sondagsgesig, ‘Liewe Jesus’ gesê het asof sy lekker aan díe twee woorde kou en dikwels daaraan herkou. Haar stem het elke keer met ‘n intense intimiteit om díe twee woorde gevou met dieselfde besitreg waarmee sy oor haar kinders praat.

“Die gode is nêrens te hoor of te sien as mens begin rook of drink nie,” vaar Helmien uit, “maar skielik vang jy gees en word daar sterk met die gode onderhandel sodra jy wil ophou. Sy bid seker elke aand, en met meer passie en innigheid op Sondae, ‘Help my, help my, help my om op te hou …’, maar sy het geen hulp nodig gehad om te begin nie. Dis nie asof sy vyftien jaar terug in die kerk gesit en met oorgawe belowe het dat sy soos ‘n skoorsteen sal begin rook as die Liewe Jesus vir haar ‘n aantreklike man stuur nie!”

Helmien is verder geskok oor díe geknoei: “Nou gebruik sy nog boonop haar arme kind as bedingingsmiddel!”

Tannie Annie is so besig om skimme in die mis te bespieël dat sy skaars ‘n woord hoor. By ‘n stopstraat gluur die gloeiende rooi verkeersligte deur die miswalms en dis nog boonop asof hulle al hoe nader dryf. ‘n Wit hand groei uit die grysheid en beduie – Kom nader, Kom díe kant toe – en dit stuur die tannie heeltemal die groendakkies in; met ‘n gilletjie gryp sy Helmien se arm en begin skree, “Dis Wynand! Dis Wynand! Die bliksem het my kom haal!”

Nog voor Helmien voldoende kan skrik, gryp Tannie Annie haar handsak, ruk die deur oop, en storm op die man af. “Ja, ja, hier is ek jou vervelige vark! Kon nie wag nie, né! Gun my niks nie, né!” en die mis malle-meule om haar soos sy haar handsak na die gedaante toe swaai. So deur haar marteling en woede hoor Tannie Annie ‘n stem wat haar roep; “Annie, Annie, jy het die verkeerde man daar beet! Los hom!”

Helmien het teen dié tyd vermoed wat aangaan. Die malligheid het nou weereens vir haar bevestig dat godsdiens met ‘n mens se kop mors, veral in sulke ongure weer, maar selfs sý tas skielik blindelings na redding en skep oombliklik self sommer ‘n paar gode: “O Tjirts, Genade tog, Seblief tog …” stuur sy smeekwoorde die missluier in, en só hopende op ‘n wonderdaad spring sy uit die kar uit om Tannie Annie sommer so aan haar kraag te gryp en terug te trek. Tannie Annie se arms beskryf die Kaapse wind vir ‘n oomblik en dan staan sy stokstil. Die helder groen en oranje gestreepheid wat uit die miswolk nader sweef, lyk toe nou glad nie soos wyle Wynand nie.

“Jammer, meneer,” verduidelik Helmien aan die verkeerskonstabel, terwyl sy Annie styf teen haar sy hou, “My vriendin voel nie lekker nie en sy wou maar net ‘n bietjie asem skep.”

Alhoewel die verkeersbeampte ietwat bleek lyk en sy oë telkemale wantrouig na Tannie Annie se kant toe flits, is hy heel aangenaam oor die hele saak en vra hulle beleefd om terug te klim in hulle motor sodat die verkeer kan beweeg.

Van daar af het Helmien en Tannie Annie die rit Kaap toe in delikate stilte voortgesit; elkeen met haar eie gewaarwordinge soos die pad en berg langsamerhand weer kleur en realiteit aanneem. By hul bestemming aangekom, draai Tannie Annie na Helmien toe en met oë vol erns sê sy vir haar: “Dat ek my nou so kon misgis met Wynand en die mis. Maar ek het hom nou finaal in sy dinges in gestuur.”

“Amen,” sug Helmien.

finis
©Sara Dias